Based: JHB

Lee Scott is beslis een van Suid-Afrika se voorste vokaliste en hy het al sy stempel as solo-kunstenaar afgedruk sedert sy dae as lid van die Hi-5-sanggroep. Die “all round nice guy” is lief vir sing sedert sy eerste solo-optrede in Graad 5. Sedertdien het hy hom gevestig as ’n musikant en vermaakliheidspersoonlikheid waarvoor hy bekroon is met ’n Huisgenoot Tempo- en SAMA-toekenning vir Beste Pop album.

Sy enkelsnit getiteld, Perfekte Vreemdeling, is in 2017 uitgereik en het kykNET se Musiekvideo Projek-kompetisie in dieselfde jaar gewen. Die sielvolle pop-liedjie oor liefde, het ’n kontemporêre aanslag en is ’n gesamentlike poging deur Lee, Roux Cloete, William Loots en Willem Botha. Hierdie musiekstuk gaan oor die oorwinning van liefde en is ’n loflied op die krag daarvan. Dit is ’n lied waarmee jonk en oud kan vereenselwig en wat Lee se besondere stem ten toon stel.

Hy is die aanbieder van SABC2 se musiekprogram, Kliphard Unplugged, en kuier elke Donderdag saam met jou op die kassie.

Miljoene aanhangers het sy musiektalent waardeer toe hy in 2018 die Australiese volkslied in Port Elizabeth gesing het tydens ’n toetswedstryd tussen Suid-Afrika en Australië. Dit was beslis een van die hoogtepunte van sy loopbaan!

Einde 2019 het hy sy nuutste enkelsnit, Vry, bekendgestel. Vry is ’n inspirerende popsnit met’’n lekkerluister ritme, wat saam met Hugo Ludik en Vaughan Gardiner van Muse Productions geskryf is. Die liedjie fokus op die idee dat elke mens uit die kompleksiteit van alledaagse realiteit kan ontsnap deur te dagdroom. “Daar is soveel druk daar buite om te presteer en jouself met ander te vergelyk, terwyl hierdie liedjie jou aanmoedig om eerder net jouself te wees,” verduidelik die sanger.

Lee en Leah het saamgespan vir die uiters suksesvolle produksie, Battle Of The Voices, waarmee hul die land vol getoer het. In hierdie produksie sing hul eie treffers, daag mekaar uit om voorste vokaliste se treffers te sing en natuurlik immergroen oues wat almal laat saamsing! Battle Of The Voices is ’n uitstekende opsie vir jaareindfunksies, korporatiewe spanbou of sommer net ’n lekker kuieraand.

Lee het ook sy eie musiekskool, Lee Scott Studios, waar hy sy kennis oor sang en musiek deel deur sanglesse aan te bied.

Na veertien jaar in die musiekbedryf het Lee ’n lys van impossante prestasie agter sy naam geskryf. Hy was nie net twee jaar lid van die boyband Hi-5 nie, maar het ook aan verskeie verhoogproduksies, waaronder Abba Magic SA, Reik na die Sterre – Die Musical, deelgeneem en in 2007 vir sewe maande konsertoptredes in die Son Amar-teater in Mallorca, Spanje, aangebied. Hy het ook deelgeneem aan Jennifer Rush se Suid-Afrikaanse toergeselskap in 2015 en aan die promosiebyeenkomste van die 2010 Eurovision Sangkompetisie in Noorweë.

In 2012 het Lee sy debuut as akteur gemaak, met ’n rol in Drukkersbloed en is kort daarna aangestel as aanbieder van die gewilde kykNET-program, Sêr. Sy twee albums, Die Enigste Manier (2010) en Vir Ewig (2013) is baie goed ontvang. Sy aanhangers is nie net in Suid-Afrika nie, maar hy het ook al ’n paar liedjies in Nederland vrygestel. In 2015 het Lee die Top 4-posisie behaal in kykNET se Afri-visie Liedjieskryfkompetisie, vir sy weergawe van Wie Is Jy?

Volgens Lee is hy met musiek in sy are gebore en is dit waar sy passie lê. Hy het vertel dat sy oupa in ’n boereorkes was en by troues en partytjies opgetree het, wat hom geïnspireer het om professioneel te sing toe hy agtien jaar oud was. Lee het drie maande musiekteater studeer aan die Technikon van Pretoria, en het later by die boyband Hi-5 aangesluit.

Sy eerlikheid en ongekompliseerde lewensuitkyk het vir hom baie deure oopgemaak. Adele, Sia, James Arthur en Troye Sivan is kunstenaars wat hom op die oomblik inspireer, maar hy glo dat die musiek waarmee hy grootgeword het, soos Jennifer Rush, Genesis, Roxette, Celine Dion, Michael Bublé en Alanis Morissette ’n groot invloed gehad het op sy eie musiekstyl.

Lee kan spog met ‘n veelsydige repertoire wat wissel van rock tot blues en pop. Hy sê dat die lewe en die mense om hom hom inspireer, en dat plaaslike en internasionale kunstenaars hom geweldig beïnvloed.

Hoewel Lee ’n positiewe en kreatiewe persoon is, is hy baie perfeksionisties wanneer dit by sy musiek kom. Dit is wat hom motiveer om nuwe hoogtes in sy loopbaan te bereik, terwyl hy skaam en hardwerkend bly.

As hy nie ’n sanger geword het nie, sou hy waarskynlik ’n grafiese ontwerper geword het, maar hy geniet die rigting waarin die lewe hom gestuur het. Met drome wat oorsese toere insluit en die gedagte om saam met Die Heuwels Fantasties te werk, is Lee ’n man met veel visie vir die toekoms.

Lee Scott glo dat sy musiek ’n uitdrukking van sy identiteit moet wees. Hy sit hart en siel in alles wat hy doen, en sy uitnemende talent, eiesoortige stem en passievolle benadering tot die skryf en produksie van elke liedjie laat mense nie net luister nie, maar ook uitsien na wat die lewe volgende vir hom inhou.

Sy opwindende nuwe lied, Todo El Mundo, wat saam met Nederlandse musikant Ryan Claud vrygestel is, het in 2021 almal se harte verower.

Related