Koos Kombuis

Based: Cape Town

Van my geboorte kan ek nie veel onthou nie. Ek weet wel dat dit gebeur het kort voor teetyd op 5 November 1954 in ‘n kraaminrigting in Duiwelspiek, Kaapstad. André le Roux du Toit is ek gedoop, maar op skool reeds het ek die bynaam Koos gekry. My ma was ‘n onderwyseres en my pa toe nog ‘n maatskaplike werker. Daar was nog nie iets soos kleur-TV in Suid-Afrika nie, selfs die alledaagse lewe was swart en wit, nes in die movies Pleasantville en Pretville.

My vroegste herinneringe is dié van ‘n treklorrie. My pa het dikwels van werk verander en daarom het ons ook aanhoudend getrek van dorp tot dorp. Terwyl my pa ge-dabble het in obskure goed soos Golden Products en Sanlam, het ek my  kinder- en skooljare geslyt in Riversdal, Paarl, Wellington, Kuruman en Bellville. Uiteindelik het ons vasgehaak in Stellenbosch.

Skool was vir my baie boring, veral omdat ek myself al op drie leer lees het – van die agterkante van cereal-bokse af.  Kytie, ons bediende en my grootste maat, het die leerdery aangejaag deur my elke dag te vra om vir haar die strokiesverhale in Die Burger te verduidelik. My vaardighede was egter beperk tot sekere gebiede. Voor die ouderdom van tien het ek reeds  ‘n dosyn romans getik op my pa se Underwoord-tikmasjien, maar ek kon nog steeds nie my eie skoenveters vasmaak nie. My onderwysers het vas geglo ek is baie dom. In ‘n sin was hulle reg, want hoewel ek lief was vir lees en vir musiek, het ek geen ambisie gehad om ‘n akademiese loopbaan te volg nie.

Ek was mal oor die army, al was ek useless met ‘n geweer. Toe hulle agterkom ek is ook nie goed met die skil van aartappels nie, het hulle my na die brandweer oorgeplaas. Hier het ek my een en enigste naskoolse kwalifikasie verwerf – ‘n brandweersertifikaat. Toe al my  vriende na ‘n jaar in die army Stellenbosch Universiteit toe gaan, het ek begin rondswerf  van die een job na die ander. Ek was die meeste van die tyd in Johannesburg. Hierdie jare was baie donker en rigtingloos, maar ek het darem streetwise geword. Ek het my hand aan alles probeer: hoenders braai by KFC, pizzas maak, polisse verkoop, brande blus, klerk-speel in die staatsdiens en sulke goed. Ek het vir ‘n ruk selfs my lyf fortuinverteller gehou en vir verveelde huisvroue voorspel wat die geslag van hulle babas sou wees – ek het immers ‘n 50%  kans op sukses gehad, en ek was meer dikwels reg as verkeerd.

In 1976 het ek terug huis toe gegaan om te probeer vrede maak met my ouers, van wie ek toe al lank vervreem was. Ek het my pa-hulle heeltemal gek gemaak, want ek het hulle oral deur die huis gevolg om my nuutste (meestal swak) gedigte hardop voor te dra. Op my eie aandrang het hulle my na ‘n sielkundige geneem, wat my sumier in ‘n gestig laat opneem het. Ek was ‘n jaar lank ‘n pasiënt in Saal 6, Weskoppies, tussen drug addicts en skisofrene, voor een van die sielkundiges my ondersoek het en besluit het ek makeer niks nie. Tot my groot ontsteltenis het hy my dadelik ontslaan. Toe moes ek van voor af begin werk soek.

Bennie-Fritz, die verhale-redakteur van Huisgenoot, het tot my redding gekom. Ek het gehitchike Kaapstad toe en twee jaar lank op vryskutbasis vir Huisgenoot stories geskryf. Teen hierdie tyd was ek wel al so mal soos ‘n haas. Ek kon slegs met normale mense kommunikeer deur my skryfwerk; in my alledaagse handel en wandel kon ek net die taal van junkies praat. Ek sou geleidelik ook begin om saam met hulle drugs te vat, ‘n nare gewoonte wat ek eers in die middel-neëntigs kon afskud.

Gelukkig vir my, het my kortverhale in Huisgenoot  gelei na groter sukses. Ek het my naam verander na André Letoit om verwarring met ander skrywers te voorkom en  ‘n hele paar boeke (romans, kortverhale en gedigte) gepubliseer. Toe ek verveeld raak met die erns van die literêre wêreld, het ek ‘n kitaar gekoop en begin liedjies skryf.

In die laat 80’s stem Shifty Records in om my eerste plaat uit te gee – Ver van die Ou Kalahari. Dit word dadelik deur die sensuurraad as “ongewens” gebrandmerk. Ek, Johannes Kerkorrel en Bernoldus Niemand, met die ondersteuning van Shifty Records en Vryeweekblad, en Dagga Dirk Uys in beheer van administratiewe sake, pak in 1986 die Voëlvry Toer aan. Ons het die idealistiese droom gehad om die Apartheid-regime met ‘n paar liedjies vol woede, bravade en vloekwoorde omver te werp. Ons speel op kampusse en in obskure sale landwyd en kom gou in die visier van die Veiligheidspolisie en ander Bewakers van Apartheid. Die invloed wat Voëlvry op die politieke bewussyn van die Afrikaanse jeug en latere Afrikaanse musikante gehad het, is al wyd bespreek en bestudeer, maar die persoonlike prys wat ons betaal het was hoog. Vriendskappe en verhoudings het in die slag gebly en die stigma van “alternatiewe musikant” sou vir altyd aan ons loopbane bly kleef soos ‘n ou poep.

Na die Voëlvry Toer gee Shifty my tweede plaat uit, Niemandsland and Beyond, maar nou onder die naam Koos Kombuis – my ou skoolbynaam en ‘n van wat ek kies omdat ek op daardie stadium in iemand se kombuis gewoon het. Weer eens word ek nie oornag ryk en beroemd nie, maar bly steeds “alternatief” en “ongewens”.

Kommersiële sukses kom wel in 1994 met die uitreik van Elke Boemelaar se Droom deur Gallo Music. Anton Goosen sorg vir die kommersiële produksie en verpakking van die nuwe Koos Kombuis.

Vandag het ek meer as tien CD’s op my kerfstok. Ek finansier self die opnames en is dus nie afhanklik van ‘n platemaatskappy nie. Die musikale produksie van my CD’s laat ek in die hande van my goeie vriend Schalk Joubert. Soms is ek nog “alternatief en ongewens”, en soms almal se gunstelling Koos. Ek geniet dit om in teaters op te tree, meestal solo, maar ook saam met briljante musikante soos Schalk Joubert, Albert Frost, Melissa van der Spuy, Kevin Gibson, Nicole Holm en Rocco de Villiers (om maar ‘n paar te noem). Ek het ook die voorreg gehad om ‘n hegte vriendskap en werksverhouding met die Belgiese musikant Stef Bos te smee. Ons het saam twee liedjies geskryf (Het Avondland en Die Duiwel en God) wat op sy CD Van Mpumalanga tot die Kaap gehoor kan word.

In my hart wil ek egter steeds eerder skrywer as musikant wees. In 2000 voltooi ek uiteindelik ‘n lank beloofde outiobiografie (Seks en Drugs en Boeremusiek), dit word gevolg deur ‘n roman (Hotel Atlantis), ‘n satire in Engels (The Complete Secret Diaries of God), ‘n riller (Raka, die Roman), 4 versamelings van voorheen gepubliseerde rubrieke (My Mamma is ‘n TaalAfrikaans my DarlingDie Dieper Dors en Die Reuk van Koffie) en ‘n na-betragting van my Voëlvry Jare (Die Tyd van die Kombi’s, in Engels uitgegee as Short Drive to Freedom). In 2013 verwerk en vertaal ek die Chinese filosofiese geskrif I Ching in Afrikaans – die I Tjieng  word deur Penguin Books uitgegee. Ek skryf ook rubrieke en kortverhale vir verskeie publikasies. My groot droom is om ‘n science fiction storie te skryf en UITEINDELIK ryk en beroemd te word, watch this space….

Enquire about this artist

Please note: all details / form fields are required

Date of event:
Do you require sound?

Please confirm you are not a robot

css.php