Danie Niehaus

Based: Cape Town

Danie Niehaus is in 2008 bekroon met ‘n SAMA-toekenning vir sy album, Fynskrif, in die afdeling Beste Afrikaanse Volwasse Kontemporêre Album.  Hierdie talentvolle en veelsydige sanger, het homself bewys as uitnemende komponis en liriekskrywer, met ‘n individuele styl en klank.  Hy beskik oor ‘n wêreldklas vokale vermoë, met ‘n omvang wat oor verskeie oktawe strek.

Danie is gebore en getoë in Bedfordview, Johannesburg en is die seun van die ontslape veteraanomroeper en –akteur Dana Niehaus.  Danie het liggaamlike opvoedkunde aan die PUK gestudeer en was uiteraard ‘n lid van die Alabama-studentegeselskap – nie as sanger nie, maar as komediant.  Hy het egter eers op 29 ernstig aan sport begin deelneem en het WP-kleure in atletiek in tienkamp verwerf.

Danie was, soos sy pa, ‘n sportjoernalis en het ook sy pa se voetspore in die vermaaklikheidsbedryf gevolg.  Hy was vir bykans 10 jaar ‘n sportskrywer, onder meer by die koerante Beeld en Die Burger en by die SAUK in Seepunt.  In daardie tyd het Danie besluit om sy komposisies op te neem en in 1985 het hy sy selfgetitelde debuutalbum uitgereik, wat vir ‘n Sarie-toekenning benoem is.  Die volgende album, Rondloper, gevolg is met die destydse OKTV-toekenning bekroon.  Nog albums het gevolg waaronder Kleure, Dagboek, Jy is Vrou en sy jongste album, Fynskrif, wat hom as een van die land se vaardigste liedjieskrywers gevestig het.

Vir sy bydrae tot die Afrikaanse kultuur is hy met die Khula-toekenning bekroon en sy komposisies in die folkgenre word hoog geag.  Hy het van die mooiste liedjies nóg tot die Afrikaanse musiekskat gevoeg – van Niks is dan mooier (Jy is vrou), Hierdie aand, Rondloper, Vir Wat?, Kleure en ‘n aantal splinternuwe komposisies van sy jongste album, Fynskrif.

In 1993 het hy saam met Bonnie Tyler deur Suid-Afrika getoer en was ook aanbieder van die vermaaklikheidsprogramme, Skokiaan en Maak ‘n Las op SABC2.  Talle Suid-Afrikaners in die buiteland woon gereeld sy konserte in Londen, Skotland en Nieu-Seeland by.  In 2004 het hy die volkslied voor die Springboktoets in Australië gesing.

Danie werk met gemak in verskeie genres, van ballades tot volwasse kontemporêre pop en rock en selfs ligte klassieke musiek.  Saam met Mathys Roets en Kevin Leo het hulle as die kragtige Drie van die Bestes, goudstatus  met hul klassieke popaanslag bereik.

In sy vertonings maak jy nie net kennis met Danie Niehaus, die professionele, talentvolle en veelsydige musikant nie, maar ook met Danie die komediant,  denker en diep sielvolle mens.

 

 

css.php